Ek verstaan nie waarom daar so oor afknouery debat gevoer word nie. Dis 2012, en dit moet nou eenvoudig wees. My kind is in in graad 7 deur die skool se kampioenbokser so gemoker dat 2 van sy boonste voortande uitgeslaan is. Die distriksgeneesheer het destyds gese dit het gelyk of ’n dier hom aangeval het. Sy hele gesig het opgeswel. Nodeloos om te sê dit het ons langs die pad verskriklik baie geld gekos en nou nog om die kind se mond reg te kry. Hy’t so verskriklik seergekry daardie dag. Ek wou ’n klag indien maar my gemoedelik moeder het vir my gesê die bully is uit ’n arm huis en hy kan dalk net eendag kies om ’n goeie pad te loop. Vandag voel ek vere vir sy goeie pad. Ek moet al weer R45 000 nou betaal om nog verdere werk aan my pragtige kind te laat doen. My kind het nie daarvoor gevra nie. Hy is ’n besondere gewilde student in biochemie. Mense hou van hom. Hy is ook nie ’n sussie nie, hy doen valskermspring en klim vertikale berge uit. Hy was maar net klein van gestalte op skool.
Dis alles nie die punt nie. Ek het nou ’n radikale mening oor afknouery. Skole kos duur en my kind moenie meer ’n skolier of leerder of leerling genoem word nie. Hy is nou ’n kliënt! Ouers betaal vrek duur om ’n kind vir ’n dag aan ander mense toe te vertrou. Ek wil nie hoor van skolereputasies of “kom ons praat dit uit”-slapgewrigtige prinsipale nie. As ’n vreemdeling, kind of grootmens aan ’n mens van my raak, net effens, beskou ek dit as aanranding. Te hel met die skoolhoof of die gemeenskap, ek gaan polisie toe en kry vir my ’n advokaat. Op so ’n manier sal skole op hul besoppens begin raak en ordentlik na ons kinders kyk.
In Amerika is ’n jong meisie haar lewe lank deur 4 afknouers afgekraak van creche-tyd tot by hoerskool uit. Haar persoonlikheid het nooit kans gekry om te ontwikkel nie. Hierdie slimme kind het haar kans afgewag. Na skool het sy vir prokureur gaan leer, vir haar ’n “dream team” bymekaar gemaak en uiteindelik die skool en die munisipaliteit en die hele gemeenskap suksesvol gedagvaar vir $14m dollar. Dit was in Colorado. Die skool het byna gesneuwel. Ryk mense van die omtrek het gelde bymekaar gemaak om die skool te red. 3 van die meisies wat haar, haar lewe lank geteister het is uit hulle eie universiteit geskors! Ek skree BRAVO!!
Dis tyd dat hierdie sake aanhangig gemaak word, buite die skool, vergeet van die verdomde skool, buite die gemeenskap, en vergeet dit om die bully se ouers te dagvaar – hulle het nie die geld om dit reg te maak nie en die skool word skotvry verklaar. Maar skole moet weet dit kan gedoen word en dit met vrees met bewing bejeen. Magtig, ons lewe met staaldeure in ons gange. Om snags ’n glas water in ’n kombuis te gaan haal moet ons staaldeure oopsluit – wie was ooit so dom om te dink ons kinders sal in ’n skool veilig wees. Saamgesnoer tussen vreemdelinge met vreemde kulture. KYK na my kind wanneer daar ’n wet is dat hy by daai plek moet wees, of die hele hel sal losbars. Nooit weer bly ek stil oor so-iets nie. Toe ek LitNet se artikel sien het die ou woede van nuuts af in my opgevlam. Ek haat ’n afknouer met my hele hart – of hy nou 5 of 25 is. Ek wil hom uit die gemeenskap hê. Ja, jammer dis hoe ek daaroor voel. My kind is kosbaar – los hom of haar uit. Laat hom wiskunde en wetenskap leer en werp die bullies uit die samelewing. Vir die prinsipaal wat my gevra het om dit maar nie verder te voer nie vir die skool se onthalwe – ek is so spyt. Jy was ’n lamsak wat net aan jou rugby en reputasie gedink het. Skaam jou, jou vermetele slapgat.
Rietha
- Klik
hier om
LitNet Akademies se artikel oor afknouery te lees.