Afknouery

  • 2

Ek verstaan nie waarom daar so oor afknouery debat gevoer word nie. Dis 2012, en dit moet nou eenvoudig wees. My kind is in in graad 7 deur die skool se kampioenbokser so gemoker dat 2 van sy boonste voortande uitgeslaan is. Die distriksgeneesheer het destyds gese dit het gelyk of ’n dier hom aangeval het. Sy hele gesig het opgeswel. Nodeloos om te sê dit het ons langs die pad verskriklik baie geld gekos en nou nog om die kind se mond reg te kry. Hy’t so verskriklik seergekry daardie dag. Ek wou ’n klag indien maar my gemoedelik moeder het vir my gesê die bully is  uit ’n arm huis en hy kan dalk net eendag kies om ’n goeie pad te loop. Vandag voel ek vere vir sy goeie pad. Ek moet al weer R45 000 nou betaal om nog verdere werk aan my pragtige kind te laat doen. My kind het nie daarvoor gevra nie. Hy is ’n besondere gewilde student in biochemie. Mense hou van hom. Hy is ook nie ’n sussie nie, hy doen valskermspring en klim vertikale berge uit. Hy was maar net klein van gestalte op skool.

Dis alles nie die punt nie. Ek het nou ’n radikale mening oor afknouery. Skole kos duur en my kind moenie meer ’n skolier of leerder of leerling genoem word nie. Hy is nou ’n kliënt! Ouers betaal vrek duur om ’n kind vir ’n dag aan ander mense toe te vertrou. Ek wil nie hoor van skolereputasies of “kom ons praat dit uit”-slapgewrigtige prinsipale nie. As ’n vreemdeling, kind of grootmens aan ’n mens van my raak, net effens, beskou ek dit as aanranding. Te hel met die skoolhoof of die gemeenskap, ek gaan polisie toe en kry vir my ’n advokaat. Op so ’n manier sal skole op hul besoppens begin raak en ordentlik na ons kinders kyk.

In Amerika is ’n jong meisie haar lewe lank deur 4 afknouers afgekraak van creche-tyd tot by hoerskool uit. Haar persoonlikheid het nooit kans gekry om te ontwikkel nie. Hierdie slimme kind het haar kans afgewag. Na skool het sy vir prokureur gaan leer, vir haar ’n “dream team” bymekaar gemaak en uiteindelik die skool en die munisipaliteit en die hele gemeenskap suksesvol gedagvaar vir $14m dollar. Dit was in Colorado. Die skool het byna gesneuwel. Ryk mense van die omtrek het gelde bymekaar gemaak om die skool te red. 3 van die meisies wat haar, haar lewe lank geteister het is uit hulle eie universiteit geskors! Ek skree BRAVO!!

Dis tyd dat hierdie sake aanhangig gemaak word, buite die skool, vergeet van die verdomde skool, buite die gemeenskap, en vergeet dit om die bully se ouers te dagvaar – hulle het nie die geld om dit reg te maak nie en die skool word skotvry verklaar. Maar skole moet  weet dit kan gedoen word en dit met vrees met bewing bejeen. Magtig, ons lewe met staaldeure in ons gange. Om snags ’n glas water in ’n kombuis te gaan haal moet ons staaldeure oopsluit – wie was ooit so dom om te dink ons kinders sal in ’n skool veilig wees. Saamgesnoer tussen vreemdelinge met vreemde kulture. KYK na my kind wanneer daar ’n wet is dat hy by daai plek moet wees, of die hele hel sal losbars. Nooit weer bly ek stil oor so-iets nie. Toe ek LitNet se artikel sien het die ou woede van nuuts af in my opgevlam. Ek haat ’n afknouer met my hele hart – of hy nou 5 of 25 is. Ek wil hom uit die gemeenskap hê. Ja, jammer dis hoe ek daaroor voel. My kind is kosbaar – los hom of haar uit. Laat hom wiskunde en wetenskap leer en werp die bullies uit die samelewing. Vir die prinsipaal wat my gevra het om dit maar nie verder te voer nie vir die skool se onthalwe – ek is so spyt. Jy was ’n lamsak wat net aan jou rugby en reputasie gedink het. Skaam jou, jou vermetele slapgat.

Rietha

- Klik hier om LitNet Akademies se artikel oor afknouery te lees.

  • 2

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Siestog, Rietha, lyk my jy het baie seer gekry, baie seerder as jou seuntjie. Gaan dit oor die geld? Seker. Lyk so. Want as dit werklik oor jou seun(tjie) se belange vir jou gegaan het, sou jy miskien in gedagte gehou het hoe jy hom verneder deur so te kere te gaan - so 'n mammie-se-seuntjie van hom te wil maak - en die ergste van alles is, jy bedoel dit goed.. Wil hy dit so hê? Hou hy van sy mammie se tirade? Is hy gemaklik met die mammie se rokspant wat hom so teen die hele wêreld wil beskerm?!  As hy enigsins 'n man is, betwyfel ek dit baie sterk, en is jou histeriese tirade sekerlik 'n ontsettende verleentheid en hartseer ervaring vir hom.

    Magtig, mens, dit lyk of jy hom nou nog in 'n emosionele loopraam het! Wil jy hom nie maar vrylaat nie? Wil jy hom nie maar toelaat om man te wees, nie? Wil jy hom jou lewe lank so in jou rokspant toevou? Die arme seun. Kan jy jou voorstel watter vernedering en verleentheid dit vir hom moet wees as sy volwasse vriende moet sien hoe mammie hom nog verpiep en driftige uitbarstings (Ingelse praat van tantrums) kry oor hy jare gelede by die skool pak gekry het in 'n boksgeveg? Mag hy nie op sy eie emosionele bene staan, nie? Kan jy nie dalk leer by die Amerikaanse ouers wat hul kind laat sterker word het deur die ervaring van die uiters negatiewe optrede van haar portuur, nie?

    Wil jy nie ook jou seun asseblief toelaat om sterker te word uit die negatiewe ervaring wat hy moet verwerk, nie?

    Jou seun mag dalk teen steiltes uitklim en uit hoë goed uitspring met sy spiere, maar jy verhoed dat sy emosionele spiere ook ontwikkel - en dit is tragies.

    Jammer as hierdie jou ontstel - maar probeer die sin daarvan insien voor jy 'n tirade in my rigting afstuur.

    Kyk, afknouery is waaragtig 'n gruwel, maar 'n gruwel wat al met ons is seolank daar al skole en kinders op skool, was. Sommige (gelukkig altyd in die minderheid) kinders knou ander af  as deel van hul emosionele ontwikkeling, hoe verwerplik dit nou ookal is en is dikwels die manifestasie van huislike omstandighede wat hulle nie kan hanteer, nie. Dit gebeur in privaat skole, dit gebeur in ander skole.

    Seuns word almal op 'n manier aan sulke rowwe optrede blootgestel. Ek is ook afgeknou. Alle seuns kom dit een of ander tyd, oor, in 'n mindere of meerdere mate. Ek, soos 95% ander seuns, is self ook daardeur en is ook op laerskool geboelie. Gewoonlik het 'n skool een of twee vernuftige knapies en baie ander wat een of ander tyd onder hulle deurloop. Dit doen hulle emosioneel op die lang duur nie kwaad nie, want hulle leer om sulke negatiewe optrede te verwerk en te bestuur. Goddank, my ouers het my nie verpiep nie - en ek het wonderlike ouers gehad (beide ongelukkig reeds oorlede). Dit is maar hoe dit soms gaan. Ek kan ook vir jou sê, 'n boksgeveg is soos 'n danspassie - it takes two to tango... jammer vir jou seun, was die ander ou die beste toegerus vir die onderonsie. Dit kon andersom gewees, het. Dalk is jou seun inherent  'n dapper kêrel wat nie wou terugstaan vir die ander ou, nie, en ongelukkig pak slae gekry het. Dan is jou seun die wenner en nie die afknouer, nie!

    Nou is daar ander lesse vir jou seun daaruit te leer - om op sy eie emosionele bene te staan, hoe sterk sy fisiese spiere nou ookal bult - gun hom dit.

    Groete, en Vrede vir jou, mens... jammer jou uiters wyse moeder met haar wonderlike, inspirerende gesindheid, is blykbaar nie meer daar om jou hierin by te staan, nie.

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    Beste Rietha,  

    Ek steun jou heelhartig.  

    ’n Eerste bepaling om afknouery te voorkom sal eenstemmigheid wees oor wat afknouery beteken of behels.  

    Persoonlik glo ek dis 'n hartseer verskynsel wat kleuter tot verswakte bejaarde kan tref. Dit kan enigeen op enige stadium van hul lewe onderdruk.  

    Afknouery is na my beskeie mening enige gedrag in anderhaat wat 'n ander se waardigheid seermaak.  

    Dit help nie om die ander wang vir 'n boelie te draai nie. Dis die gouste wat jy op die grond val met groot mediese koste agterna.  

    Dit help ook nie om terug te probeer baklei as die boelie een of ander stand het soos om fisies sterker te wees of om bande met 'n hooggeagte persoon, soos byvoorbeeld 'n berugte of bekende prokureur het nie.  

    Self het ek geen antwoord teen onderdrukkers nie behalwe om te staan waar ek dalk in elkgeval sou val nie.  

    Die mees effektiefste sou wees om onderdrukkers net te vermy maar geen mens weet waar die lewe hul neem nie. Jy land dalk eendag in 'n tehuis waar die verpleegpersoneel sommer jou toonnaels pluk as hulle nie lekker voel die dag nie.  

    Dan is daar ook diegene wat ander se geloof of ongeloof hul geniepsige hoon en afknouery nie sal spaar nie (soos die Moslem wat onlangs deur twee anderhaat boelies dood geslaan is net omdat die Moslem sy baard en kultuur gelief het).  

    Dis interessant om te lees dat tot 60% van alle mense negatief deur afknouery geraak word - dus die meerderheid.  

    Tog is die slagoffers van boelies altyd 'n "swakker" enkeling of veronderstelde minderheid wat van die "norm" afwyk, "uit is", waarop daar deur minderwaardiges gepik word.  

    Rietha, ek het bewondering vir jou sorgsaamheid. Dankie vir deelsaamheid op die werf. Ek koester jou bydrae as een van die kosbaarste en nodigste op die werf.

    Self sal ek seker nooit anders om tot my eie nadeel as in te spring waar ek sien iemand word afgeknou nie (en dis ook verkeerd).

    Namaste!  

    Cornelius 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top