Adam Small se gedagtes oor drama

  • 0

Adam Small het die volgende voorgelees as inleiding tot die Toneelskrywers-gesprek saam met Saartjie Botha en Chris Barnard by die US Woordfees.

Vriende, almal en skrywers, kollegas

Dis vir my 'n enorme voorreg om in hierdie geselskap te kan meedoen.

Hierdie gespek gaan natuurlik oor drama, en ek  lees later vanmiddag ook nog poësie, en dis goed so, omdat die twee dinge – soos my begrip van goeie drama loop – geheel verwant is aan mekaar.

Soms dink ek selfs dat Kanna hy kô hystoe, en selfs Joanie Galant-hulle en Krismis van Map Jacobs, net maar lang gedigte is, en dat soveel van my gedigte kort dramas is!

'n Dramateks is natuurlik 'n skrywe wat handeling of aksie op die verhoog moontlik maak, ’n skrywe waarby akteurs betrek word. En hoe maklik poësie sig tot sulke handeling leen, word mooi geïllustreer deur, sê maar, fabels soos van James Thurber of Saint-Exupéry, skrywer van Le Petit Prince wat deur filmmakers verwerk is tot 'n pragtig visuele dans van die kleine prins met die jakkals.

Ek gaan nie probeer om in besonderhede in te gaan op die "stand van dramateksskrywing in Afrikaans nie", en wil net maar sê dat ons na my mening 'n lewendige kultuur van drama skryf het, asook van die opvoering daarvan (op die verhoog en op die radio).

Wat die gehalte van hierdie werk betref: dis natuurlik 'n ope vraag. Dis nie elke dag of twee se gebeurtenis dat 'n grootse drama te voorskyn kom nie, maar dan verwag 'n mens ook nie so iets nie.

Vir my is 'n eerste vereiste van 'n betekenisvolle drama die skryf van natuurlike dialoog, ongeforseerde dialoog. Ek luister soms na radiostukke wat my ore pynig met die gedwonge, gemaakte woorde van die karakters!

Dan moet daar 'n spaarsaamheid van woorde wees, 'n kompaktheid of saamgebindheid, 'n noodsaaklikheid van woorde pleks van 'n oortolligheid. Ek meen dat ek in Kanna taamlik hierin suksesvol was, en selfs in Krismis van Map Jacobs. In hierdie verband is ek nie alte seker van Joanie Galant-hulle nie.

Hier het ek nie Shakespeare se groot stortvloede van woorde in gedagte nie. Dis iets gans anders, want hierdie grootse skrywer het – soos ek meermale gesê het – nooit drama op die konvensionele manier, soos sê maar 'n Arthur Miller of Tennessee Williams of, inderdaad, 'n Sophokles of Euripides, geskryf nie. Ek wéét ek steek my nek ver uit, maar dis soos ek dink: Shakespeare het almaar nie drama nie, maar melodrama geskryf – Hamlet, Macbeth en die grootste van al sy stukke, King Lear. (Selfs 'n komedie soos A Midsummer Night’s Dream is melodramaties gekonsipieer.) By dit alles gesê, natuurlik, watter melodrama, watter enorme groot, bewonderenswaardige tekste!

'n Laaste aspek van sake wat ek moet aanvoer is dat enige gedig eintlik nooit heeltemal áf, of kant en klaar volledig is nie – iets waaraan Joan Hambidge my herinner het na aanleiding van Paul Valéry. Dis ook so met 'n drama. Soms, na al die jare, voel ek steeds dat ek 'n reël hier of woord daar aan Kanna wil verander. (Valéry se sinvolle uitspraak was: 'n vers is nooit áf nie, dit verlaat jou net, en jy gaan voort!)

Ek hou daarmee rekening dat ek aanvegbare dinge hier sê, maar aanhoorders sal met my saamstem dat aanvegbaarheid die weg oopmaak tot intelligente debat – of in die woordeskat van ons kontemporêre Suid-Afrikaanse beheptheid, tot demokratiese debat.

Ek sluit my bydrae vir die middag af met 'n uittreksel of twee uit Kanna en Krismis van Map Jacobs net om wat ek die verwantskap van drama en poësie genoem het, te illustreer.

Baie dankie dat u geduldig bereid was om na my te luister.

---

Adam Small

Foto's: Naomi Bruwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top