ABSA KKNK 2015: Dirk Ligter

  • 0

Dirk Ligter is ’n legend van die Tankwa Karoo. Uiteindelik word sy storie vertel. Joe Dauth, se eerste woorde in sy self-gepubliseerde boek, lui:

Dirk Ligter was altyd vir my as seun ’n Suid-Afrikaanse soortgelyke “Robin Hood”.  Nie omdat ek hom gesien het as ’n bruinman wat by die witman gesteel het nie.  Nee, in my oë was hy ’n weldoener wat by die blankes en die basters, wat toe ook maar as bruinmense beskou is, gesteel en aan minderbevoorregte arm bruinmense gegee het.  As gevolg van sy speurwerk is die skuldiges in die nou reeds berugte Danstermoorde aan die man gebring, maar omdat hy kort-kort die polisiemanne so lekker op hulle neuse laat kyk het, was hy ’n ongekroonde held onder sy mense.  Moordenaars het hy nooit beskerm nie, maar toegesien dat hulle vir hulle wrede dade moes boet.

Oom Joe is in 2014 oorlede.

Nog ’n skrywer, JNP Theart, se selfgepubliseerde boek eindig as volg:

Dirk Ligter is op ’n redelike hoë ouderom in 1930 op ongeveer vyftigjarige ouderdom, in die Somersethospitaal oorlede, wat nie ver van hulle huis af is nie.   Hy is in die kleurlingdeel van die ou Somersetbegrafplaas begrawe, nie ver van sy witfamilie af nie.

In die produksie Dirk Ligter is dié twee skrywers (gespeel deur Cedwyn Joel en Ian Roberts) in gesprek met mekaar oor Dirk (gespeel deur Charlton George) se ware verhaal. Ander karakters word gespeel deur Kim Cloete en Odelle de Wet.

Ian Roberts en Cedwyn Joel was voor Dirk Ligter laas omtrent 30 jaar gelede saam op die planke – in Die Koggelaar van Pieter Fourie.

Dirk Ligter word elke aand vanaf 4 April tot 11 April 2015 opgevoer by die “Tankwa Karoo”-buiteluglokaal, ’n kort rit vanaf die Oudtshoorn-dorpskern. Opvoerings begin om 18h30. Regie is deur Lara Bye, choreografie deur Ina Wichterich, ontwerp deur Mari Borstlap. Die teks is deur Albert Maritz. Met Ian Roberts, Cedwyn Joel, Charlton George, Kim Cloete en Odelle de Wet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top