ABSA KKNK 2014: Wie drink wat?

  • 2

Teks: Saartjie Botha en Christiaan Olwagen
Regie: Christiaan Olwagen
Choreografie: Ina Wichterich
Vervaardiger: Saartjie Botha
Met: Rolanda Marais, Martelize Kolver, Brendon Daniels, Gideon Lombard, Ludwig Binge, Cintaine Schutte, Themba Mbuli en Thabisa Dinga

Ware geluk lê aan die einde van die volgende bottel wyn

“Ek is al 24 119 dae getroud. Dis ’n baie lang tyd om te probeer gelukkig wees.”

Wie drink wat? spreek die baie belangrike kwessie van drankmisbruik aan.

“Ek is nog OK om te bestuur.”

“Ek sou nooit so praat nie, ek was nie myself nie.”

“Ek belowe dit was die laaste keer.”

Dié produksie is ’n collage van verhale wat getuig van die destruktiewe invloed van drankmisbruik. Drank word dikwels, veral in Suid-Afrika, nie so vinnig soos ander dwelms as ’n probleem bestempel nie. Dit is dikwels die geval dat mense werklik verskriklike onregte teenoor andere en hulself kan pleeg voordat die baie werklike probleem aangespreek word. Dit is die mees toeganklike dwelm in ons land en saai wydverspreide verwoesting. Almal het ’n pel, ouer, familielid of kollega wat elke slag een, twee, of ’n hele aantal te veel neem.

Die produksie open met wat soos ’n bruilof lyk: ’n pragtige bruid (Rolanda Marais) wat aan haar winkelpop-bruidegom haar ewige liefde verklaar. Die bruilofsfees begin egter spoedig uitmekaar val soos wat die akteurs byna dronk word in die vinnig-bewegende vertel van die verhaal. Die verhaal word deur monoloë, dansdrama, gedigte en prosa aanmekaar gevleg. Karakters vertel verhale van familiedruk, verlore liefde en slegte besluite wat deur drankmisbruik aangebring of aangevoer word. Die uiteindelik totale ontrafeling van karakter en akteur laat die bruid weer alleen staan in ’n ontroerende en kragtige finale monoloog waarin sy haar pa aanspreek oor jare se skade wat deur drankmisbruik aangedoen is. Sy getuig van hoedat hierdie verslawings jare daarna steeds letsels agterlaat, en dat die moeilikste dalk die noodsaaklike vergifnis vir haar eie welstand ten einde is. Die vergifnis waarsonder die verminkte nie kan voortleef nie.

Alhoewel akteurs daarin slaag om kragtige getuienisse van die karakters te lewer, laat die regie veel te wense oor. Die produksie kom onderbroke voor, met ’n groot gebrek aan vloei in die verhaal. Hiermee bedoel ek hoegenaamd nie dat dit gehoorsaam moet wees aan ’n chronologiese of logiese storielyn nie, maar slegs dat dit voel soos ’n stel saamgeflanste verhale, met momentele onderbrekings van dansteater en gechoreografeerde ensemble-beweging.

Nie te min laat dit mens nadink oor belangrike gebeure in ons alledaagse lewens wat moontlik net té alledaags word. Wie rondom jou is werklik sielsongelukkig en geniet graag ’n biertjie om die “edge” van dinge af te neem, en wanneer is daai ekstra glasie wyn net een te veel? “Want die lewe is alleen draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is. En baie snaakser.”

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Ek reageer graag omdat ek die toneelstuk onlangs gaan sien het. 

     
    Emma sê in haar resensie: “Alhoewel akteurs daarin slaag om kragtige getuienisse van die karakters te lewer, laat die regie veel te wense oor. Die produksie kom onderbroke voor, met ’n groot gebrek aan vloei in die verhaal. Hiermee bedoel ek hoegenaamd nie dat dit gehoorsaam moet wees aan ’n chronologiese of logiese storielyn nie, maar slegs dat dit voel soos ’n stel saamgeflanste verhale, met momentele onderbrekings van dansteater en gechoreografeerde ensemble-beweging." 
     
    Dit is onduidelik (wel, vir my) of haar stelling dat die regie veel te wense oorlaat, gevolg word deur haar motivering vir dié stelling of deur verdere kritiek. 
     
    Onder “regie” verstaan ek (uit die HAT): “Spelleiding, afrigting van toneelspelers; leiding by die opvoering van ’n toneelstuk: Die toneelstuk is opgevoer onder regie van mnr. X.” My interpretasie is daarom dat regie verband hou met die gehalte van afrigting teenoor haar klagte dat die verloop van die storie eintlik te gefragmenteerd is. Die abrupte spronge en staccato styl verhoed juis dat die bruid se lewe tekens van normaliteit toon. Ek het gedink dit is treffend en simbolies; en ook dat ek redelik vernuftig is om dít alles op my eie te kon uitfigure. 
  • Elizabeth Gallant

    Ek het hierdie drama by KKNK gesien! Dit was fenomenaal. Is daar dalk 'n video-opname wat te koop is?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top