Trompie was almal se held in hul jongdae. Nou is die antiheld in Trompie is net uitgepaas by die ABSA KKNK 2014. De Klerk Oelofse en Cintaine Schutte vertel.
Hallo De Klerk en Cintaine, ek sien Trompie paas uit. Eers was hy in die Boksombende en nou lyk dit my hy’t met die verkeerde soort bende deurmekaargeraak. Of wat het gebeur?
Hi Naomi. Man, Trompie is daai pel wat saam met ons almal grootgeword het. As jy nie voor skool al met hom kennis gemaak het nie, het jou juffrou of ouers hom aan jou afgesmeer. Hy was saam met jou op vakansie en by van jou partytjies. Tussen Trompie en jou ander tjommie, Die Swartkat, het jou ouers nie meer sitkamervensters nie. Dis deur die einste sitkamervensters waar jy en Trompie later gevang is toe julle skelm probeer rook het en waar jy en Saartjie en toe later hy en Saartjie vir die eerste keer gesoen het. Nou is jy in jou middel-20’s en Trompie braai nog steeds elke Saterdag by jou. Op hierdie Saterdagaand kom krap ’n meisie die bende-braai deurmekaar en met die drank laat waai die verwyte. Die bende kry kans om alles te sê wat al die afgelope twee dekades brand om uit te kom. Moet hulle nog vriende wees? Sal hulle nog vriende wees? Hoe neuroties is die kettieskieters regtig? Of mag manne nie neuroties wees nie?
Omdat Trompie so universeel is, het ons besluit om eerder die res van die bende op die verhoog te sit. Jy ontmoet dus vir Blikkies, Dawie, Rooies en dan die loskop Sunette (nie dat ons haar met Boesman die brak wil vergelyk nie, asseblief nie). Trompie maak wel ’n verskyning as ’n hadeda (lees hier “groot voël”). Daar is ook ’n windbuks, Buksie, en tussen Buksie, die bende, Sunette en die drank lyk Trompie se kanse maar skraal.
Onlangs by die Woordfees het Polony na die psige van die middel-20’s-vrou gekyk met Meerfout. Hier lewer julle weer kommentaar op ’n karakter wat mense van julle generasie sal ken. Of is my wiskunde verkeerd? Was julle dan al gebore toe Trompie gebore is?
As ek reg onthou, is die eerste uitgawes van Trompie al in die ’50’s en ’60’s gepubliseer; toe was die lede van ons geselskap nog nie eers ’n glinster in die oog nie. Die TV-reeks is in die laat ’70’s verfilm en ek dink ons generasie het deur middel van ouboet of ousus se video’s met Trompie kennis gemaak. Daar is tog iets te sê van ’n boekreeks wat die toets van tyd weerstaan het. Elkeen van ons ken daai vriendekring – hetsy dit 'n klomp ouens of meisies is – elkeen van ons kan aanklank vind by die klomp BFF’s (Best Friends Forever). Of hulle nou kattekwaad aanvang, avonture aanpak, grappe maak, vrae vra of baklei, as kind beleef jy al daai ervarings, as jongmens ervaar jy hulle nog steeds, die speelveld het net verander.
Hoekom Trompie? Is hy die manlike eweknie van Meerfout? Of is hy toevallig ’n halfseun/halfman en die drama handel eintlik eerder oor ’n era as oor ’n man of ’n vrou?
Ons noem Trompie is net uitgepaas eintlik die boetie van N is vir Neurose (2012), wat Polony se eerste produksie was. Christiaan (Olwagen) het dit geskryf en die regie behartig en die stuk handel (losweg) oor die neurose van jong dames in hulle middel-20’s. In 2013 besluit hy en De Klerk (Oelofse) om ondersoek in te stel na die neurose van jong mans in dieselfde ouderdomsgroep en daar ontstaan Trompie is net uitgepaas toe.
Trompie is net uitgepaas is ’n satire oor jonk wees en oud word. Waar Meerfout meer fokus geplaas het op die jong vrou wat haar pad probeer vind in haarself, kan Trompie ook dieselfde insinueer. Die karakters in Trompie is net uitgepaas is almal ook op soek na hulle eie identiteit en selfs wat hulle identiteit buite die bende mag wees. Ek dink in die produksie is Trompie ook ’n simbool van onskuld – jy weet, die dae toe “wat om vandag te speel” omtrent jou enigste “conundrum” was.
Wie van Polony skryf en wie is die akteurs? Of is dit presies wat julle naam sê ... almal meng alles (en die gehoor kom eet saam)?
Ha ja, soos enige goeie polonie is ons ook ’n klomp verskillende goed wat bymekaar gegooi is en dan netjies verpak word. Almal doen omtrent alles. As jy nie speel in ’n ding nie, doen jy die verhoogbestuur en help met die bemarking daarvan. Ons bedryf die kollektief kommunisties en die winsdeling (as daar is) word gelyk tussen almal op die produksiespan verdeel. So nee, niemand het spesifieke rolle in die kollektief nie.
Ek hoor dis die allerlaaste keer wat hy uitpaas – by vanjaar se ABSA KKNK. Hoe en waar kan mense gaan kyk?
Ons speel in die Griesselsaal by die ABSA KKNK:
2 April 13h30
3 April 17h00
4 April 13h00
5 April 19h00
Kaartjies kan by Computicket gekoop word.
En hoewel dit dalk die laaste keer is wat Trompie op die verhoog uitpaas, is daar baie opwindende planne in die pyplyn om dit te verfilm.
Die Lelike Eend, nog 'n produksie van Polony, is ook by vanjaar se ABSA KKNK. Hier is die datums en tye vir dié produksie.
29 Maart 09h00
30 Maart 19h00
31 Maart 09h00
1 April 15h00
Griesselsaal
Lees ook 'n gesprek met Christiaan Olwagen – wat ook by Trompie is net uitgepaas betrokke is.
Kommentaar
EK IS OP SOEK NA 'ROOIES' WAT IN DIE 70's IN TROMPIE GESPEEL HET - SY PA WAS GETROUD MET MY MA, EK SOEK AL JARE LANK 'N KONTAK NOMMER VIR HOM, SY REGTE NAAM IS IVAN (IVANOVICH)SNYMAN. IS DAAR DALK IEMAND WAT MY IN DIE RIGTING VAN DIE OU BENDE LEDE KAN LEI, DALK KAN EEN VAN HULLE MY TE HULP WEES.
DUISENDE DANKIES