ABSA KKNK 2014: Stories & Skrywers

  • 0

Ilza Roggeband reël vanjaar die program van Stories & Skrywers by die ABSA KKNK. Sy vertel vir Naomi Meyer waar bibliofiele en alle lesende siele hul gunstelingskrywers kan kom ontmoet.

Die ABSA KKNK is 20 jaar oud. Max du Preez gesels oor die afgelope 20 jaar se veranderinge in die land. Enige ander boeke op die feesprogram wat terugkyk op die afgelope twee dekades?

Die grootste is seker KKNK 20, die boek oor die geskiedenis van die KKNK, wat by die fees bekendgestel word. Die boek word deur die fees uitgegee en die bekendstelling is op Vrydagaand 28 Maart by die feesbal. Daar is ook Sondag 30 Maart om 14:00 ’n praatjie oor die boek by die ATKV Karoo Kafee. Ek was die samesteller van die boek en dit was ’n reusetaak, maar ons is almal baie tevrede met die eindproduk. Karen Meiring, vorige grootbaas van die KKNK en deesdae weer ’n direksielid, het van die begin gesê die boek is nie net die geskiedenis van die fees nie, maar ook ’n geskiedenis van teater in Suid-Afrika die afgelope 20 jaar. By die praatjie Sondag praat ek, Karen, Anet Pienaar-Vosloo, Amanda Strydom (wat by haar 20ste fees is), Pedro Kruger en Denver Vraagom oor die afgelope 20 jaar se KKNK en oor wat alles agter die skerms gebeur het met die skryf en vervaardiging van die boek.

Dan, in die hede, is daar spel. Daar is mense wat kook, iemand wat klimtol speel, andere wat vry. Enige boeke of geleenthede wat julle hier wil uitsonder?

Dis moeilik om net een uit te sonder, maar die gesprekke waarna ek baie uitsien is die gesprek Sondag om 12:30 met Abel Pienaar (God se oë is blou) en Koos Kombuis (I-Tjieng: ’n GPS vir Verdwaalde Siele) met die tema “Wat is jou rigtingwyser?”, en die gesprek met Simon Bruinders, Eldrige Jason en Fatima Osman met die tema “Word almal se Afrikaanse stories vertel?”. Dan sien ek ook uit na Dinsdag se gesprek, “Die wetenskap agter misdaad”, waar ek met Heinz Mödler (James Bond, ontbloot) en baasspeurder Piet Byleveld praat oor misdaad in die werklike lewe en hoe dit in boeke en flieks weergegee word. En ja, die gesprek oor Michael Hammond en Hanlie Retief se boek oor Orania, en ook die een met Tinus Horn en Elle Roux se boeke wat die sexy kant van Afrikaans wys. O, en natuurlik die gesprek oor kookboeke en die een met Max du Preez en die een met Steve Hofmeyr oor sy nuwe boek. Daar is eintlik nie een gesprek waarna ek nié uitsien nie!

Julle is die gewildste fees in die land en julle boekprogram moet in almal se smaak val. Soos jy gesê het, Orania is daar, Steve Hofmeyr ook en natuurlik Deon Meyer. Hoe het julle die boekeprogram saamgestel? Wat het die paal gehaal en hoe kies mens waaroor gesels word?

Toe die program saamgestel is, is al die groot uitgewers in die land genader. Hulle het voorstelle gestuur en van daar af het ek temas uitgedink waar ons soveel moontlik skrywers kon gebruik. Ek hoop die program is van so aard dat daar iets vir almal is en dat lesers en boekliefhebbers al twaalf die gesprekke sal bywoon.

Julle ken dit nou al: alle Afrikaanse kunstefeeste word so maklik beledig as boerewors- en braaivleispartytjies. Net dit. Maar wie sê dis nie die ideale ruimte om juis te gesels oor dinge van belang nie? Waaroor gaan julle vanjaar by die ABSA KKNK gesels - en hoekom?

Al die boekgesprekke is beslis nie ernstig nie. Ek dink daar is van die gesprekke waar ons pret gaan hê en van die gesprekke gaan ons beslis iets leer. Daar is ’n goeie mengsel van fiksie en niefiksie.

Benewens die boekgesprekke is daar ook Die Burger Praat Saam-reeks onder leiding van Freek Robinson. Die vyf onderwerpe wat bespreek word is die onderwys, die ekonomie, grondhervorming, die grondwet en die verkiesing. Daar is ’n baie stewige span wat gaan saampraat – van Jonathan Jansen en Mampele Ramphele tot Leon Wessels en Marius Fransman. Ek is baie dankbaar ek is nie die skeidsregter hier nie …

Die gesprekke oor teater, die Afrikaanse filmbedryf, Afrikaanse musiek en Voëlvry (wat vanjaar 25 jaar gelede gebeur het) gaan baie interessant wees. Vir die Voëlvry-gesprek is die gaste Max du Preez, Deon Maas, Amanda Strydom en Chris Chameleon, en hulle alleen beloof ’n baie lewendige gesprek.

Dan het Hannes van Wyk, aanbieder van Bravo, van Sondag tot Vrydag ’n uur lange gesprekprogram met verskeie bekendes, onder meer Elma Postma, Anna-Mart van der Merwe en Wicus van der Merwe. Dit gaan iets soos “Michael Parkinson / Graham Norton comes to the KKNK” wees en beloof om baie plesierig te wees.

Ook deel van die program by die ATKV Karoo Kafee is twee programme propvol humor wat onderskeidelik deur Marion Holm en Nico Nel aangebied word. Marion se program is “Koeitjies en kalfies, ditjies en datjies”, en sy en haar gaste sal feesgangers om 18:00 van Saterdag 29 Maart tot Dinsdag 1 April vermaak. Nico se program is van Woensdag 2 April tot Vrydag 4 April, ook om 18:00.

Praktiese reëlings: Is al julle boeke-items by die ATKV-kafee? Waar presies is dit? En is dit als gratis?

Die hele program soos hier bo genoem word by die ATKV Karoo Kafee aangebied, wat by Arbeidsgenot is (Jan van Riebeeckweg 217). Toegang is gratis.

Lees die volledige Stories & Skrywers-program hier.

Deborah Steinmair gesels met Etienne van Heerden oor Klimtol en klimtolspeel by die ABSA KKNK. 60 min. Gratis. ATKV-Karoo Kafee. 1 April 14:00

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top