ABSA KKNK 2014: Rondomskrik

  • 0

Teks: Rachelle Greeff
Regie: Hennie van Greunen
Met Shaleen Surtie-Richards, Lee-Ann van Rooi, Crystal-Donna Roberts en Richard September

Die grusame dood van Anene Booysen sorg beslis nie vir ligtevermaak-materiaal nie. Soortgelyk is ook Rondomskrik,wat hierdie gebeurtenis as inspirasie vir ’n verhaal gebruik,’n roerende vertelling van geweld, verlies en teleurstelling.

Die produksie fokus egter nie alleenlik op die verhaal van Antjie Fortuin wat, soos Booysen, as ’n jong skooldogter gruwelik verkrag en vermoor is nie, maar neem ’n wyer kyk na dié rondom haar. Dit vertel veral die verhaal van hoe ’n gemeenskap hulle kinders kan teleurstel. Hoe volwassenes daarin faal om die weerloses onder hulle te beskerm.

Rondomskrik fokus veral ook op die verhaal van Jasmien Adams, Antjie se onderwyseres, vir wie dit ’n lewensdoel is om aan haar leerlinge, ten spyte van haglike huishoudelike omstandighede, spreekwoordelike vlerke te gee. Vir ’n onderwyseres soos Jasmien is daar meestal maar net ’n handjie vol wat die geleenthede aan hulle gegun opneem. Dit is vervolgens hartverskeurend wanneer hierdie leerlinge, wat daarin slaag om te presteer ten spyte van hulle omstandighede, so gewelddadig daaruit geruk word.

Die goedgeskrewe teks word gelei deur die vertelling van Jasmien Adams (Shaleen Surtie-Richards). Surtie-Richards, wat vanjaar deur Kuns Onbeperk vereer word vir vertolking, lewer ’n kragtige en geloofwaardige vertelling van hierdie tragedie. Lee-Ann van Rooi en Richard September wissel met vaardigheid en finesse van karakter, soos hulle verskeie karakters in die verhaal vertolk. ’n Slim en eenvoudige stel dra by tot die gladde verwisseling van tonele. Tegnies verloop dinge egter minder vlot en verbreek strak beligting die vloei van die verhaal.

Rondomskrik vertel uiteindelik nie alleenlik ’n verhaal van hartseer, geweld en teëspoed nie, maar ook een van hoop. Die hoop dat iemand soos Jasmien Adams met die kleinste gebare lewensveranderende verskille kan maak. Dat daar nog, ten spyte van die wêreld se verval, “uitkyk anties” is, dié wat vir jou uitkyk, al behoort jy nie soseer aan hulle nie en al is jy onbewus van hulle ondersteuning. Die verhaal doen dus veral dit: dit maak ons bietjie meer bewus van dié wat werklik agter die skerms ’n verskil maak.

Rondomskrik  is vanjaar by die ABSA KKNK te sien en kaartjies is beskikbaar by Computicket.

90 min. R110 SANW-ouditorium

29 Maart 20:00 (Finale Kleedrep: R55)

30 Maart 09:00 30 Maart 12:00

31 Maart 16:00 1 April 16:00

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top