ABSA KKNK 2014: Oorsee

  • 0

Teks: Tertius Kapp (van Rooiland-faam)
Regie: Wolf Britz
Vervaardiger: Saartjie Botha

Met Gerben Kamper, Nicole Holm, Brendon Daniels, Geon Nel en Karli Heine

Afrikanerkultuur: sokkietreffers vs Raka, en die ewigheidswaarde

Oorsee is ’n eksistensiële verhaal oor die verval van die mensdom en die soeke na die land van melk en heuning.

Mossie Waterboer het die woord van Die Asem ontvang, gedurende die tyd van die vloede, om sy boot te neem vanaf Fabelberg, waar die mensdom hul bevind het, en Noord te reis. Mossie neem sy dogter Canola op die reis saam, asook die gesin Verfkan, pa Joshua, ma sonder naam en seun Abraham. Jare gaan verby sonder dat hulle weer die land sien. Gedryf deur die gevaar van die seeduiwels, vaar die groepie in vrees voort. Nie dat daar egter ooit iets dramaties gebeur nie. Inteendeel, níks gebeur nie. As gevolg van die onbetroubare funksionaliteit van hul skip is reis ook nie eers ’n alledaagse aktiwiteit nie. Die openingstoneel getuig reeds van die vereenvoudiging van hulle lewens: elkeen het ’n aangelapte uitrusting aan – oorskietmateriaal van verskeie voorwerpe.

Dié uitnemende teks speel sterk op Afrikaner-patriotisme en calvinisme in. Ten tye van absolute verval word onder andere NP Van Wyk Louw- en Totius-tekste gelees, as deel van die 550 “gekose skrifte”, die heilige kanon. Verwronge intertekstuele verwysings na die Boereoorlog en Bybelse geskrifte lewer verdere satiriese kommentaar op die Afrikaner-bestaan. Mossie speel die rol van bewaarder, bewaarder van die taal, opvoeding en alles wat sogenaamd heilig is. Dit staan veral in komiese kontras met sy dogter, ook een van sy studente, wat praat van die “konsternasiekampe” gedurende die geveg met die “souties”. So ook sien die gehoor hoedat die karakters stadig maar seker verval in wat ons barbaarse aktiwiteite van vlees en bloed sou kon noem. Dit staan in ironiese kontras met behoue tradisies soos gebed om die etenstafel, al is die maaltyd hoe skraal.

Al vyf akteurs dra baie suksesvol by tot die vertel van die verhaal. Hulle slaag goed daarin om die uiteenlopende karakters in sterk kontras met mekaar te laat staan, en hulle spel getuig ook van ’n goeie begrip van die komplekse teks. Slim stelontwerp, met besonderse aandag aan besonderhede, gee waarlik die gevoel van die beknopte bootwoning van die karakters. Dit strek egter net, ten spyte van die noemenswaardige kwaliteit van die teks en verhaal, effe te lank.

Oorsee lewer kommentaar op die oorbodigheid van taal en selfs, tot ’n seker mate, kultuur, maar vra terselfdertyd ook wat die mensdom, en spesifiek die Afrikaner, daarsonder sal wees. Die produksie is tegelykertyd skreeusnaaks, grusaam en hartroerend en laat boonop baie belangrike vrae by die gehoor. Dit is ’n interessante produksie om in ‘n KKNK-konteks te kyk. ’n Speelveld vir ’n verskeidenheid uiteenlopende Afrikaner-mentaliteite, van sokkietrefferaanhangers tot dié wat ure omsit in akademiese gesprek met ikoniese Afrikaanse digters. Waar hoort jy, en wat maak dit uiteindelik saak op oorlewingsvlak? Ongelukkig is Oorsee se speeltyd by die KKNK verstreke, maar hou ’n ogie daarvoor oop op nasionale verhoë.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top