ABSA KKNK 2014: Land van skedels

  • 0

Regie en teks: Nicola Hanekom
Musiek en klank: Braam du Toit en James Webb
Choreografie: Fiona du Plooy
Met Tinarie van Wyk Loots, Albert Maritz, Neels van Jaarsveld, Zanne Stapelberg, Grant Swanby, Bronwyn van Graan, Lerato Matshwarakgole, Wilhelm van der Walt, Gretha Brazelle, Hanlé Lombard, Christia Visser, Tebogo Munyai, Nkosinathi Sangweni, Siyabulela Sikawuti, Shaun Smith, Nceba Ngubombini en Vasti Knoesen.

’n Landskap wat met min vergelyk. Die evokatiewe berge van die Karoo, ’n stofvlakte, en op ’n afstand die kappies van konsentrasiekamptente. Die gehoor maak ten eerste kennis met klein grepe van die karakters se verhale soos hulle die “konsentrasiekamp” binnestap. Sommige karakters beweeg deur die gehoor, ander skuil in hulle tente. ’n Sensoriese reis van omringende klank en verhale. Hierna lei die karakters die gehoor om wat lyk soos ’n sirkusring, waar Brit en Boer, op ’n ongewone hoë stoel en ’n perdesaal, onderskeidelik, aan weerskante van die ring sit. Die sirkusring raak die speelplek vir die marionette van die stryd, met politieke leiers, Emily Hobhouse en die dood as ringleiers.

Die produksie fokus veral op die verhaal van vroue in die konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog. Dit bied daarby ook ’n blik op ander wat dikwels aan die kantlyn van dié verskriklike stryd geplaas is, maar wat ewe erg daaronder moes ly.

Uitstekende ontwerp en stilering skep merkwaardige beelde van lig en donker, met kragtige ontploffings van kleur en tekstuur te midde van die stof. Hanekom skep ’n verfynde teks, egter meer poëties suksesvol as wat dit sukses bereik in die bou van karakters. Nietemin, die emosionele reis van die karakters is duidelik en die gehoor word beslis daarmee meegevoer. Ten spyte van voorspelbare choreografie lewer die dansers ’n baie indrukwekkende bydrae tot die landskap van die produksie. Hulle uitstekende ensemble-werk dra grootliks by tot die oorlewering van die konsep van die produksie.

Die produksie huisves ’n interessante en uiteenlopende geselskap wat met groot sukses aan die verhaal lewe gee. Spesiale melding moet gemaak word van Lerato Matshwarakgole, wat in ’n enkele spreekbeurt met ’n kragtige monoloog ’n stem gee aan dié wat dikwels sonder aanmerking uitgelaat word uit die verhaal van hierdie stryd. Alhoewel die stem van Zanne Stapelberg, as Emily Hobhouse, gedurende die produksie bydra tot die ryk lae van klank, voel haar operasolo tesame met ’n kinderkoor ten slotte effe oorbodig.

Alhoewel die verhaal fokus op ’n baie populêre en bekende tema in die Afrikaanse literatuur en kuns, lewer dit ten einde baie besondere kommentaar. Ten spyte van lyding wat self beleef is, is die mensdom se reaksie op onreg teenoor hulself dikwels onreg teenoor ander. “Ons is die ape wat na-aap.” So swaar soos wat een groep onder ’n ander kan ly, so maklik draai dieselfde groep om en vergeet van die swaarkry te midde van onderdrukking.

Met Land van skedels skep Hanekom ’n “performance art”-werk met die potensiaal om tot ’n groter gehoor te spreek. Hiermee bedoel ek hoegenaamd nie dat dit, in teenstelling met wat gewoonlik van hierdie vorm van optrede/kuns verwag word, gemaklik en eenvoudig is nie, maar slegs toeganklik. Die inhoud van die produksie spreek natuurlik tot ’n groot deel van die KKNK-gehoor, maar dit is hoegenaamd nie sogenaamde tradisionele teater nie. Ten slotte is Land van skedels ’n suksesvolle en kragtige produksie wat uitstekende gebruik maak van ruimte, visuele en orale elemente en op ’n sterk, poëtiese teks gegrond is.

Die produksie is tot 5 April by die ABSA KKNK te sien. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

90 min. R100 Die Konsentrasiekamp

29 Maart 18:15 30 Maart 18:15 31 Maart 18:15

1 April 18:15 2 April 18:15 3 April 18:15

4 April 18:15 5 April 18:15

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top