Clover Aardklop: Daar kom die Jaloersbokkies

  • 0

Dit het alles begin met ’n ontmoeting by ’n konsert. Nedine Blom is bekend vir haar Supercool-kindermusiekalbums. Jawaahier Petersen, wat onlangs haar meestersgraad in sielkunde gekry het, is die dogter van die legendariese Taliep Petersen.

“Ons het saam by Die Burger Pops opgetree en het ná die tyd kontak gehou,” vertel Nedine. “Ek het op ’n dag gesê ons moet gaan koffie drink en daar het ons besluit ons wil weer saam werk. Ons aanvanklike plan was om ’n jazz-trio te begin, maar by ’n eerste oefensessie, waar Jawaahier se broer Ashur – ’n baie talentvolle kitaarspeler – ook was, het ek gevra watter Afrikaanse musiek hulle ken.”

Die twee Petersens het weggeval met wat hulle ken as “piekniekmusiek” en Nedine het vinnig begin saamsing. “Ons het toe besef dat hierdie liedjies, liedjies soos ‘Daar kom die Alibama’ en ‘Bobbejaan klim die berg’ nie aan ‘ons’ of ‘hulle’ behoort nie, maar aan almal wat Afrikaans praat,” sê Nedine.

Hulle het in Januarie 2013 in alle erns begin oefen. Die naam Die Jaloersbokkies het hulle gekry toe hulle op liedjies besluit het – “Jaloersbokkie” was een daarvan. “Ons is ook jaloerse bewakers van ghoema-musiek,” sê Nedine. “Musiek kan help om kulturele grense oor te steek. Ons het soveel gemeen en met hierdie konsert bewys ons dit.” Waar hulle aanvanklik net drie was, het die groep gou gegroei met nog musikante wat bygekom het. Benewens Jawaahier, Ashur (ook op kitaar) en Nedine wat vir die sang verantwoordelik is, is daar ook Carlton Adam (trompet), Rhyno Domingo (klavier), Shaan Wocker (tromme), Yazeed Williams (kontrabas) en Junaid Galant (tradisionele Maleise sanger). Die Jaloersbokkies het ’n baie definitiewe styl wat voorkoms aanbetref. “Ons het besluit op ’n vintage-voorkoms omdat die musiek so tydloos is. Dis amper soos Ouma-beskuit,” sê Nedine. “Dis kleurvol en speels en pas ideaal by die musiek wat ons maak.”

Sy het baie geleer oor die geskiedenis van Afrikaanse musiek en sê dit is ’n voorreg om saam met die groep talentvolle musikante op te tree. “Ek geniet elke oomblik. Daar is byvoorbeeld versies van die bekende liedjies wat ek nie geweet het bestaan nie. Ek het geleer dat dié versies destyds deur die slawe gesing is wanneer die base dit nie moes hoor nie.”

Wat kan mense van die konsert verwag? “Dit speel af in die radiostasie Jaloersbokkies FM tydens die aanbieding van ’n erfenisweek. Mense bel in, ons vertel stories en natuurlik is daar die wonderlike musiek. Ons gaan Afrikaanse treffers sing, maar ook Maleisiese musiek en van Taliep se musiek. Ek glo mense wat van gehalte-musiek hou, gaan dit baie geniet.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top