Aansoeke vir die prestasiebeurs van die Van Ewijck-Stigting

  • 0

Aansoeke vir die prestasiebeurs van die Van Ewijck-Stigting (R50 000) sluit op 5 Desember. Dit is ’n prys wat toegeken word vir ’n projek op die terrein van die bevordering van kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland. Die aansoekers moet egter ’n goeie rekord hê van vorige prestasies op hierdie terrein. Hierdie oogmerk kan in die ruimste sin vertolk word en sluit alle vertakkinge van die kunste of wetenskap in.

Meer inligting oor die stigting en die toekenning:

Die Van Ewijck-Stigting bevorder kultuurbande met Nederland

Suid-Afrika het ’n ruim kultuurprys ryker geword met die aankondiging dat die Van Ewijck-Stigting jaarliks ’n Prestasie-prys van R50 000 toeken. Die Van Ewijck-Stigting se Prestasie-prys is gerig op projekte wat kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland bevorder. Hierdie oogmerk kan in die ruimste sin vertolk word en sluit alle vertakkinge van die kunste of wetenskap in. 

Die Stigting is in Kaapstad gevestig en bevorder al vir ’n geruime tyd kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika. Die trustfonds, in 1978 gestig deur Sippo Johan Van Ewijck van de Bilt (1902-1979), het oor jare heen bestendig gegroei danksy goeie beleggings op die plaaslike aandelebeurs.  Mnr Van Ewijck was ’n Nederlandse sakeman wat vir ongeveer 40 jaar afwisselend in Suid-Afrika en Nederland gewoon het. Hy het egter ’n besondere liefde vir Suid-Afrika gekoester. Hy en sy vrou, mev. T.T. van Ewijck, was eienaars van o.a. die Binnehuis-winkels in Kaapstad en Somerset-Wes wat gehalte-meubels verkoop het. 

Die eerste vergadering van die Trustees van die Van Ewijck-Stigting is op 3 Maart 1980 gehou. By dié geleentheid was die volgende persone teenwoordig: mnr. H.C. Sandrock (voorsitter, prokureur en vriend van die Van Ewijcks), mev. Van Ewijck, dr. A.J. Boëseken (bekende historikus), mev. M.A. Bax-Botha (kultuurhistorikus) en prof. Roy Pfeiffer (hoogleraar in Afrikaanse taalkunde). Die huidige voorsitter van die Raad van Trustees is prof Chris van der Merwe. Hy word bygestaan deur ’n aantal plaaslike Nederlands- en Afrikaanssprekende kundiges.

Die egpaar Van Ewijck het ’n waardevolle versameling van blou-en-wit Oosterse porselein, Hollandse silwer-, koper- en glasware, en meubelstukke – waaronder ’n sewentiende-eeuse kussingkas – in Kaapstad opgebou.  By die terugkeer van mev. Van Ewijck na Nederland in 1981, is hierdie versamelstukke aan die destydse Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Museum (tans die Slawelosie en deel van die Iziko-Museums) geskenk.  Van 1981 tot 2003 is dit in ’n ruim lokaal op die eerste vloer, bekend as die Hollandse Kamer of die Van Ewijck van de Bilt-Kamer, uitgestal.

Die fokusarea van die Stigting is veral die bewaring van die Nederlandse kultuur-erfenis in Suid-Afrika; die bevordering van die belange van Nederlandse of Suid-Afrikaanse verenigings met doelstellings wat ooreenstem met dié van die Stigting; en die toekenning van beurse en stipendia aan Suid-Afrikaanse universiteite en tegnikons. Navorsers wat in ’n rigting studeer of werk wat ooreenstem met die uitgangspunte van die Stigting, kan ook in aanmerking kom vir befondsing.  Daarby geniet behoeftige, bejaarde Nederlanders wat in Suid-Afrika woon, ook onderskraging van die Stigting. 

Instellings en organisasies wat gereeld deur die Stigting ondersteun word, sluit in: die Nederlandse Bibliotheek in die SASNEV-gebou in Pinelands, die Maandblad Zuid-Afrika,  die Stigting VOC, die Stichting Nederlandse School te Kaapstad, die Nederlandse komponent van die Afrikaanse Woordfees op Stellenbosch. Meer onlangse skenkings sluit in die Libertas-koor, die Tracing History Trust, die Kaapstadse Simfonie Orkes en die S-A Instituut in Nederland. Die Afrikaanse leerstoel by die Vrije Universiteit van Amsterdam word deur die Stigting gesubsidieer. Vlugkoste word dikwels deur die Stiging gedra wanneer musici aan meesterklasse in Nederland gaan deelneem of wanneer navorsers na Nederland reis vir projeknavorsing. Ook die reiskoste van verskeie Nederlandse gassprekers op plaaslike konferensies  is deur die Stigting betaal.

Talle ander organisasies het baat gevind by die Stigting.  Die Genootskap Nederland-Suid-Afrika is oor die jare gehelp om groepsbesoeke van Nederlandse studente aan Suid-Afrika, en omgekeerd, moontlik te maak. Aan die destydse Suid-Afrikaanse Biblioteek (tans die Nasionale Biblioteek, Kaapstad) is geld beskikbaar gestel vir die restourasie van waardevolle Nederlandse boeke in sy Van Dessin-versameling. Toe die Koninklijke Bibliotheek in Den Haag mikrofilmkameras vir die verfilming van Suid-Afrikaanse koerante aan die Suid-Afrikaanse Biblioteek geskenk het, het die Stigting ingestaan vir die vervoer daarvan na Kaapstad. Die ZASM-Gedenkhuis in Pretoria is gedeeltelik met fondse van die Stigting gerestoureer. Aan die Nederlands Cultuurhistorisch Instituut by die Universiteit van Pretoria is gereeld bydraes gemaak vir die aankoop van Nederlandse boeke en UNISA ontvang jaarliks fondse sodat hulle die subskripsie van Nederlandse tydskrifte kan volhou. Die publikasie van tientalle besondere boeke is ook in die verlede deur die Stigting moontlik gemaak.  Hieronder resorteer Dan Sleigh se Die Buiteposte van die VOC, die Codex Witsinii wat deur Iziko-Museums gepubliseer is,verskillende boeke van Karel Schoeman, en die vertalings van Afrikaanse boeke in Nederlands deur Riet de Jong-Goossens.

Hierdie opsomming is nie naastenby volledig nie, maar gee ’n indruk van die belangrike bydrae wat die Van Ewijck-Stiging die afgelope dekades gelewer het om die Nederlandse kulturele erfenis in Suid-Afrika te bewaar en te bevorder. Die werksaamhede van die Stigting is ’n huldeblyk aan die nagedagtenis van mnr. en mev. Van Ewijck wat met hulle visioenêre blik – en ruim erflating – alles moontlik gemaak het.   

Aansoeke vir geldelike steun vir toepaslike inisiatiewe en projekte en moet voor 5 Desember gerig word aan:

Die Sekretaris
Van Ewijck Stigting
Posbus 1658
Kaapstad
8000
(e-pos: nieuwoudt0@absamail.co.za)
Tel no: 021-9394009

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top