Film-resensies | Film Reviews

 
A Dangerous Method: Goeie drama met sterk beelde en skerp rolverdeling


A Dangerous Method

Regisseur: David Cronenberg
Kamerawerk: Peter Suschitzky
Draaiboek:
Christopher Hampton
Rolverdeling: Viggo Mortensen, Michael Fassbender, Keira Knightley, Vincent Cassel
Musiek: Howard Shore
Looptyd: 94 minute

Punt: 3.5 / 5

 


Psigoanalise was een van die belangrikste ontwikkelings van die twintigste eeu. Soos baie van veteraanregisseur David Cronenberg se films ondersoek A Dangerous Method hoe die psigiese en fisiese ten nouste met mekaar verweef is, en hierdie film oor die ontstaan van psigoanalise speel dus ook in op sy ander films, soos Crash (1996) en eXistenZ (1999). Dit is nie so goed soos van sy ander films nie, maar tog die moeite werd.

A Dangerous Method, gebaseer op die toneelstuk The Talking Cure en ’n verwerking van A Most Dangerous Method: The story of Jung, Freud, and Sabina Spielrein deur John Kerr,speel af tydens die interessante ontstaansjare van psigoanalise en fokus op die verhouding tussen van sy belangrikste figure.

Dit is ’n dekade voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Carl Jung (Michael Fassbender) is ’n jong psigiater in Zürich, waar hy op ’n dag ’n pasiënt begin behandel wat ’n merkwaardige invloed op sy professionele en persoonlike lewe sou hê. Die 18-jarige Sabina Spielrein (Keira Knightley) is ’n intelligente en belese Duitssprekende Rus wat na Jung verwys word as gevolg van haar ernstige neurose. Jung besluit om ’n nuwe behandelingsmetode te volg: die sogenaamde “talking cure”, oftewel die psigoanalitiese benadering van die (toe) omstrede Oostenrykse psigoanalis Sigmund Freud (Viggo Mortensen).

Uit die behandeling blyk dit dat Spielrein se neurose teweeggebring word deur haar onderdrukking van masochistiese drange. Geboei deur die intelligensie en seksuele aantrekkingskrag van sy pasiënt kontak die pasgetroude Jung vir Freud, gedeeltelik om raad te kry oor Spielrein, maar ook om sy idees (wat soms heftig van Freud s’n verskil) met die ouer dokter te bespreek. Hoewel die fondamente van die psigoanalise reeds deur Freud daargestel is teen die tyd waarin die film afspeel, het dit toe nog jonger ondersteuners benodig om dit te propageer en die nodige geloofwaardigheid te gee. Freud beskou die ambisieuse Jung as die perfekte opvolger.

As ’n professionele guns stuur Freud kort daarna een van sy besonderse pasiënte na Jung in Zürich. Otto Gross (Vincent Cassel), self ’n psigiater, ly waarskynlik aan wat vandag bekend staan as skisofrenie. Soos Spielrein is Gross hoogs intelligent, en deur sy toestand vind hy ’n bevryding wat vir Jung onmoontlik is as gevolg van sy eie leefmilieu. Gross se persoonlike en professionele menings stem ooreen: niks moet ooit onderdruk word nie. Deur sy sessies met Gross word Jung oorreed om voor sy drange te swig.

Die film volg die verhouding tussen Jung en Freud en hoe dit beïnvloed is deur elkeen se kontak met Spielrein. Op die vlak van hulle navorsing begin Freud en Jung ook drasties verskil. Jung, wat baie klem plaas op die belang van mites en religie, vind Freud te rigied in sy denkwyse en gevolgtrekkings (en veral sy fokus op seksdrange), terwyl Freud geïrriteerd raak met Jung se belangstelling in wat hy (Freud) beskou as esoteriese twak. Intussen blom Spielrein met haar studies om self psigiater te word en vind sy heling, terwyl sy interaksie met Spielrein vir Jung destruktief word. Die film keer dinge behoorlik op sy kop, want die kyker kry die kans om analis te speel met die belangrikste analiste van die vorige eeu as analisante.

Hierdie film sal nie noodwendig slegs in die smaak van geïnteresseerdes in die psigoanalise val nie. A Dangerous Method is ook ’n goeie drama met sterk visuele beelde en ’n skerp rolverdeling. Fassbender is oortuigend as Jung, opeens entoesiasties en vol selfvertroue oor die baanbrekende werk waarmee hy hom bemoei, maar terselfdertyd ook onseker en terneergedruk deur sy Protestantse leefomgewing en sy verpligtinge teenoor sy gesin, ten spyte daarvan dat hy ryk getrou het en daardeur heelwat vryheid behoort te hê. Mortensen skep ’n goeie teenwig hiervoor: sy vaderlike Freud is rasioneel oor die wêreld en psigoanalise en hy toon Freud se skerpsinnige sin vir humor. Daarbenewens lyk dit nie asof sy eie omstandighede (hy woon in ’n klein Weense woonstel met ’n groot gesin en redelik klein inkomste) juis beperkend is vir sy werk nie. Knightley verdien lof vir haar vertolking van Sabina Spielrein. As neurotiese pasiënt gee sy betekenis aan die uitdrukking “die stuipe kry”, maar sy slaag ook daarin om Spielrein se formidabele intelligensie en sensualiteit oor te dra. Vincent Cassel as die enigmatiese Otto Gross vermag ook veel met ’n skamele hoeveelheid tyd op die skerm.

A Dangerous Method eindig op ’n baie melancholiese noot. Dit is toepaslik as mens in gedagte hou dat dit eerstens op die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog is en tweedens maar die begin is van die moderne psigiatriese praktyk, en dit skets ’n realistiese grou beeld van die lot van enigeen wat in daardie tyd aan ’n sielkundige probleem gely het; en laastens sou dit jare duur voordat die terneergedrukte Jung sy depressie sou oorkom en van sy belangrikste werk sou publiseer. Bowenal laat A Dangerous Method mens weer nadink oor die invloed van psigoanalise op ons wêreld, aangesien selfs ’n film oor die ontstaan van die beweging as sodanig geïnterpreteer kan word.


   



 
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address