Die plaas in die glas

  • 0

"Na al die jare maak ek weer 'n plaashek oop. Waar het my paaie tog nie geloop?" – Uys Krige

April 1862: Louis Pasteur voltooi sy eerste pasteuriseringstoets.

April 1948: Nestlé begin sjokoladepoeier vervaardig. Dit heet Nesquik.

April 1998: Op Sanddrift-plaas te Koringberg, in die plaaskombuis voor die Sondagmaal, meng ek my eerste glas Nesquik.

April 2012: Inje, Korea.

Gisteraand maak ek 'n aangename ontdekking in 'n klein winkel naby my woonstel: sjokolade-Nesquik! Jare soos in jare laas het ek dit gedrink. Gisteraand sit die heimwee in my lyf soos 'n vol maag na 'n vol glas vloeistof. Ek het die sakkie oopgeskeur, in 'n groot plastiekglas met melk die sakkie leeg gemaak. Selfs met middelvinger daaraan geklop om seker te maak niks bly agter nie. Die poeier ruik na sjokolade. So gaan ek toe op reis deur die poeiergeur en glas sjokolademelk. Op reis na my nefies-en-niggie-hulle se plaas op Koringberg.

Op Saterdae of Sondae het ons gesin daar gekuier. Ek en Boetie sou agter in die bakkie lê of probeer regop sit en kyk hoe die kilometers doringdraad en rooigrond verby ons skud, skud, skud op die grondpad na Sanddrift. Almal hou stil en parkeer onder die lang bloekombome met hulle snaaks-gevlekte basse. Pappa maak die Volkswagen-bakkie-klap oop. Ek en Boetie skiet agteruit om vir Oupa te gaan groet, met Amy die Englies boeldôk te speel en die kaktusse te spaai vir 'n turksvy.

Soms het die hele familie daar op die plaas byeengekom vir 'n braai. Ons kleingoed sou die amandelboom oes en met die grootste graagte die doppe kraak. Die grootmense ook. Daar was altyd iets om te doen op die plaas en ons het gulsig gespeel: windbuks geskiet, kleilat gegooi by die dam, gekyk na die vreemde name en plakkate in die kamers: Foo Fighters, Sound Garden en 'n blonde, slordige man met 'n sticker op sy kitaar wat sê: "Vandalism: beautiful as a rock in a cop's face".

Na oestyd sou ons kastele bou met die kafbale, wegkruipertjie in die skuur vol koring speel, turksvye met 'n stok afkap en rol in stof tot die haardorings af is en die vrug reg vir die eet is. Een van die ma's sou altyd waarsku dat ons nie te veel turksvye moet eet nie, anders gaan dit ons gatte blok. Ons sou "touch"-rugby en krieket speel saam met die vriendelike kinders van die plaaswerkers. Die spanne was altyd gemeng om dinge regverdig te hou. Hulle was altyd so verbaas dat ek hulle name onthou van laas keer. Ek was altyd verbaas dat hulle myne vergeet het. Al die grond was speelgrond.

Teen middag sou dit lekker warm wees en dan sou ons gaan lafenis soek in die Bergrivier. My nefies is knap en handige seuns wat 'n foefieslide in 'n japtrap kon opstel. Ons sou beurte maak om die boom aan die een kant van die rivier op te klim, vorentoe en na die anderkant uit te skiet en dan ons bes doen om so vinnig as moontlik te gaan voordat jy moet los en in die koel water van die rivier plons terwyl almal handeklap en "cheer". In die oewer sou ek rymwoordjies met 'n stok skryf: "Sand, land, brand". Die volgende ronde kon nie gou genoeg kom nie, kon nooit lank genoeg hou nie.

My nig was die oudste van die lot. Die dapperste en die mooiste mens met die mooiste glimlag en sjokoladebruin oë in die wêreld. Dit was my diepste geheim en ek het dit vir niemand vertel nie. Nie eers die Sondagskooltannie of my beste maatjies of my nefies of Boetie – niemand- het dit geweet nie. Net ek het.

Op een of ander manier het ons altyd betyds opgedaag vir middagete: skaaptjops, plaasbrood, pampoenkoekies, knoffelbrood, wors, slaai, braaibroodjies met perskeblatjang en peper op die tamaties. Ek sou 'n glas sjokolade-Nesquik maak en loer vir my tannie en ma se vla en gemmerklontjiepoeding wat wag. Die kos, al die kos, en die nagereg was so lekker. My ooms, my pa en my tannies het ons almal aan die lag gehou met hul grappies en staaltjies. Ons kinders sou ná die tyd Star Trek, Highlander of The Crow op die TV in die donker sitkamer kyk terwyl die grootmense 'n uiltjie gaan knip. Partykeer sou ons “TV games" speel en my nefies was altyd so goed daarin. Hulle was in alles goed.

Teen skemer drink ons moerkoffie en lag ons dood vir my een oom wat die kokketiel vloekwoorde probeer leer. Die kokketiel se naam was Koki en Koki kon weldra die familie in matroostaal aanspreek en fluit: "Koki fok jou!" Die koffie was altyd sterk. Ek kon nie verstaan waarom die grootmense dit "moerkoffie" noem nie. Al die ander koffies het name gehad, soos Ri, Fres, Koffiehuis en dit was dit. Ek kon nêrens "Moerkoffie" in die winkels sien nie, ook nie "Boeretroos" nie, en het maar gewonder of die mense net 'n rede gesoek het om lelik te praat.

In hierdie tyd sou ek in die kombuis ingaan en nog 'n glas vol plaasmelk maak. Die Nesquik was in die regterkantste laai langs die groot yskas. Drie opgehoopte teelepels en 'n bietjie vir "good luck" was my geheime resep.

Buite in die tuin luister mens na die skaduvoëls en tarentale wat roep in die skemer. Die kleure was diep blou, pers, perske en vonkgeel. Die voëls het altyd in die vorm van 'n V gevlieg en ek het altyd gewonder of dit 'n "peace sign" was of die skerp punt van 'n wapen.

Dit sou stadig maar seker donker word. En dan sien jy die sterre. Dit het nie saakgemaak of hulle groot bolle gas was wat ligjare ver gebrand het nie. Timon in Lion King was reg dat hulle vuurvliegies is.

Een of ander tyd moes ons koebaai sê vir die mense. Hoe lief was ek van toe af al nie vir daai klomp uitbundige, hardlaggende-eet-graag-lag-graag-familiemense van my nie! Dit was nooit lekker om koebaai te sê nie. Dit het so gebly. Met die jare het dit ook nie makliker geword nie.

Laatnag ry ons huis toe. Ek en my boetie sou agter in die bakkie onder die komberse inklim en saam lag soos ons terug dink oor die dag en dan vir mekaar sê: "Nag Boeta" en "Nag Boetie". Ma en Pa kon ons toe nog kamer toe dra en in die bed sit en vir ons fluister dat ons moet lekker slaap. "Ons is baie lief vir julle."

Nou, na al die jare in die buiteland, in 'n ander wêreld, onderneem ek weer die reis na die plaas in die glas. Dit alles in die sjokolade-Nesquik.

Nou is daar troues om te beplan, en die sterre weet wie nou op daai plaas bly en wat daar gebeur. Is daar nog amandels aan die boom? Wat het van my ander maatjies geword?

Drink die nuwe mense wat daar bly ook Nesquik?

Die Here weet.

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top