Lewenskwaliteit?

  • 2

Lewenskwaliteit? (Bron: Foodallergens.com)

Louis Wessels was 'n gesonde, lewenslustige jongman van 21, pas getroud en op pad om vir die eerste keer pa te word toe hy op 24 April 1963 deur 'n motor omgery is. Ná die ongeluk was hy twee maande lank in 'n koma. Toe hy sy bewussyn herwin, was dit gou duidelik dat hy baie ernstige breinskade opgedoen het. Hy sou nooit weer kon praat, enigiets verstaan of enige beheer oor sy liggaamsfunksies kon uitoefen nie. Die res van sy lewe sou hy bedlêend en totaal hulpeloos wees.

'n Kurator wat deur die hof aangestel is om Louis se belange te behartig, het 'n derdeparty-eis teen die versekeringsmaatskappy van die motor wat hom omgery het, ingestel om hom te vergoed vir die enorme skade wat hy gely het. Dit het onder meer ingesluit sy verlies aan inkomste en sy mediese en hospitaalonkostes. In regskringe word hierdie soort skade spesiale skade genoem. 'n Slagoffer word vergoed vir direkte finansiële skade wat hy gely het. Hieroor was daar in Louis1 se geval geen probleem nie: die partye was dit eens dat hy vergoed moes word.

Die probleem het gekom by mnr Wessels se kurator se eis vir sy verlies aan lewensgenietinge en 'n drasties verkorte lewensverwagting. Dié soort skade word algemene skadevergoeding genoem. Eintlik word daar onder dié hoof nie skadevergoeding in die gewone sin van die woord aan die slagoffer betaal nie, maar genoegdoening, of troosgeld, om hom te vergoed vir sy verlies aan lewensgenietinge en 'n inkorting van sy lewensverwagting.

Maar hoekom was dit 'n probleem om in Louis Wessels se geval aan hom 'n bedrag geld toe te ken as genoegdoening, as troos, vir sy verlies aan lewensgenietinge en aan geluk? Die rede was dat hy doodgewoon totaal onbewus was van sy verlies. Selfs al sou die hof aan hom 'n enorme bedrag geld toegeken het, sou hy dit nooit kon begryp of geniet nie.

Die lot het op regter Joe Ludorf van die hoër hof in Johannesburg geval om oor hierdie netelige probleem te beslis – die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaanse hof hom oor 'n vraag van hierdie aard moes uitlaat.

Regter Ludorf het geargumenteer dat as 'n eiser vir, sê, tien jaar bewusteloos is na sy ongeluk, daar tog geen kwessie kan wees oor sy verlies aan inkomste nie; hy sal daarop geregtig wees, al is hy bewusteloos. Om dieselfde rede behoort hy vir sy verlies aan lewensgenietinge vergoed te word. Die feit dat hy onbewus is dat hy lewensgenietinge moet ontbeer, behoort nie in die pad van sy eis te staan nie.

Die regter moes daarna bepaal hoeveel geld die hof aan mnr Wessels moes toeken. Daarvoor moes die hof kyk na Louis se persoonlike omstandighede: die soort lewe waaraan hy voor die ongeluk gewoond was; die feit dat hy eintlik nog aan die begin van sy lewe gestaan het; dat hy onlangs getroud was, en dies meer. Maar die feit dat hy nie werklik 'n besef van die omvang van sy verlies gehad het nie, is tog ook deur die hof in ag geneem. Die regter ken uiteindelik R5 000 toe. In vandag se geldwaarde is dit nie te versmaai nie.

Regter Ludorf se uitspraak het kwaai kritiek in akademiese kringe uitgelok. Die kern daarvan was dat daar tog nie van 'n ontneming van geluk sprake kan wees as die slagoffer nie daarvan bewus is nie. Dit is immers 'n beginsel van ons reg dat geen genoegdoening toegestaan word vir pyn en lyding wat nié ervaar word nie.

Dit bly egter 'n netelige vraag. Een kommentaar het dit só gestel: Niemand stry dat 'n bewuste verlies aan lewensgenietinge 'n aansienlike vergoeding verg nie. Die enigste vraag is of bewusteloosheid die lei as't ware skoonvee. Dit sal nietemin baie durf van 'n hof verg om álle vergoeding aan 'n menslike wrak te weier bloot omdat die slagoffer onbewus van sy tragiese omstandighede is. En tog gebeur dit van tyd tot tyd.2

Wat sê jy?

1 Gerke No v Parity Insurance Co Ltd  1966(3) SA 484 (W)

2 Vgl byvoorbeeld Collins v Administrator, Cape 1995(4) SA 73 (C).

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Ek dink Regter Ludorf se uitspraak was absoluut korrek.

     
    Die feite van die saak spreek vanself.  Voor die ongeluk het Wessels 'n waarskynlik normale vlak van lewensgenieting, drome en planne met sy toekoms gehad.  Daarna was hy eensklaps daarsonder.  Hy het dus 'n ongetwyfeld die verlies aan 'n aktiewe, produktiewe en gelukkige lewe gely.  Die feit dat hy onbewus is van sy verlies agv sy toestand, maak myns insiens geen verskil nie.  Indien my boekhouer van my geld steel en ek is daarvan onbewus, ly ek tog steeds 'n verlies.  Die kurator van die boedel, wie nms Wessels opgetree het, het na sy belange omgesien, was wetlik sy voog en dus sy wetlike 'bewussyn'.  Ek kan nie sien hoe howe vergoeding kan weier omdat 'n benadeelde nie bewus is van sy verlies nie, terwyl daar werklik 'n verlies bewys kan word nie.  Wat van 'n persoon wat tot sterwe kom en in lewe besteel was deur sy boekhouer maar nooit bewus was daarvan nie?  Die kurator vd bestorwe boedel, as wetlike agent vir die boedel vd oorledene, as hy/sy kan bewys dat die oorledene 'n verlies gely het, het tog seker 'n eis teen die boekhouer namens die boedel?  
  • Gustaf Pienaar

    Beste Toeskouer - dankie vir jou deelname.  Ek stel voor jy lees weer die betrokke "Regsalmanak" waarin ek probeer het om die verskil tussen "algemene" en "spesiale" skade te verduidelik.  G'n twyfel nie: Louis Wessels was geregtig op sy "spesiale" skade: verlies aan verdienvermoë, die koste van sy mediese en ander versorging, ens. Wat omstrede was, was die Hof se toekenning van "algemene" skadevergoeding - "troosgeld", dus, vir sy verlies aan lewensgenietinge.  Die kritici van regter Ludorf se toekenning spesifiek vir algemene skade voer aan dat Louis Wessels vanweë sy vegetatiewe toestand nie daarvan bewus was dat daar lewensgenietinge is wat hom ontneem is nie. Prakties het dit beteken dat daardie geld dus na sy naasbestaandes sou gaan en die vraag is: is dit in openbare belang? Is dit geregverdig dat mense wat nie in 'n motorongeluk beserings opgedoen het nie, die voordeel van die slagoffer se skadevergoeding moet ontvang? Onder die huidige derdeparty-wetgewing is dit nie meer moontlik nie; die vraag kan egter wel opduik by ander gedingsoorsake, byvoorbeeld waar iemand na 'n operasie waar dinge vanweë iemand se nalatigheid skeefgeloop het, dan - soos Louis Wessels - in 'n vegetatiewe toestand is. Groete! Gustaf

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top