Nooit alleen deur Olindia Bresser

  • 2

Boektitel: Nooit alleen
Outeur: Olindia Bresser (illustrasies: Nurine Olivier)
Uitgewer: Kophinos Creations CC
ISBN: 9780620550178

 

 

“Chantelle het gedink dat sy die enigste kind in die wêreld was wat ’n bose geheim weggesteek het. Sy het [...] altyd alleen en skuldig gevoel. Sy het nie geweet hoe om teen [...] seksuele mishandeling te veg of [...] daarvan te ontsnap nie.”

Só lees die flapteks van Nooit alleen. En só word die leser ingetrek in die boeiende verhaal van ’n kind se bykans onmoontlike stryd om uit die wêreld van seksuele misbruik te ontsnap.

Chantelle dra ’n groot geheim met haar saam. Een wat haar so seer en kwaad maak dat as sy “Voetsek!” vir haar kleinboet Gerrit skree omdat hy al weer in haar goed krap, hy nie eers terugpraat nie – hy kan sommer aan die bleek gesig sien hy moet die pad vat. Niemand weet dat Chantelle se pa en sy oom Bruce (wat na drank en sigarette ruik en wie sy altyd moet soen as sy hom groet) haar misbruik nie. Nie eers haar heel beste vriendin, Carla, weet van haar geheim nie. Chantelle se pa se geld vergoed nie vir die leed wat hy die familie aandoen nie, die verhoudinge met sy kinders wat hy vernietig deur haar broer uit die huis te verdryf nie, die vernietigende uitwerking wat hy op die mense om hom het nie. Boonop is hy ’n bobaas manipuleerder wat selfs die maatskaplike werker (Chantelle se een moontlike Samaritaan) om sy pinkie kan draai. Chantelle weet ook nie dat die misbruik die rede is waarom sy so ongelukkig nie, waarom sy so ’n opgeboude woede in haar het dat sy vir Billy by die skool sommer te lyf gegaan het nie. Haar lewe begin egter rigting kry wanneer sy na die berader, Alondii Schumacher, verwys word. Ook hier is sy nie bereid om oor sake by die huis te praat nie, maar die rigtingwysers en die hulp wat sy by Alondii kry, gee haar uiteindelik die krag om haar teë te sit teen haar pa, en ook oom Bruce.

Olindia Bresser het met Nooit alleen ’n interessante boek gemaak: meer as net ’n verhaal, ’n hulpgids oor molestering en seksuele misbruik wat met leesbakens feitelike, religieuse en belangrike inligting kommunikeer en met foto’s en illustrasies toegelig is. As hierdie boek by ’n hoofstroomuitgewer verskyn het, sou dit waarskynlik die klein jakkalsies in die taalversorging, aanbieding en algemene indruk kon vrygespring het.

Ek sou ook graag wou gesien het dat Chantelle se pa en oom Bruce vervolg word, nie net dat Chantelle die mag wat hulle oor haar het, verbreek nie. Molestering is ’n kriminele oortreding wat gestraf moet word. Dit ten spyt, het ek die boeiende verhaal tot aan die einde slaafs gelê en lees in die hoop dat daar van iewers hulp vir Chantelle sou kom.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Olindia Bresser

    Baie dankie, Leti, vir die
    opbouende kommentaar. Ek het die taalgoggas te laat gesien tydens die
    vertaling, want ek was baie emosioneel met die afsterwe van Lizelle
    (Voorwoord), agv indirekte gevolge van molestering. Never Alone word deur ’n
    kundige aan die Universiteit van Potchefstroom taalkundig versorg. Ek glo die
    tweede druk kan ons regsien sonder drama. Ek het met opset geen vervolging in
    die boek beskryf nie omdat minder as 1% aanklagte op seksuele misdade suksesvol
    vervolg word. Wetlike vervolging bring meer trauma vir die slagoffer en eerder
    absolusie vir die familie wat voel hulle het die slagoffer gefaal. Ek is egter
    100% ten gunste van vervolging. Nogmaals baie dankie, Olindia Bresser

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top