Gustaf Pienaar: Regsalmanak | Columns

 
13 Augustus: Hoekom Douglas se kerk hierdie week op die map is
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

13 Augustus 1986 – dis ook al 26 jaar gelede – was ’n vreugdevolle dag vir die kerkraad van die NG Gemeente Douglas. Dis mos daardie dorpie by die samevloeiing van die Oranje- en Vaalriviere wat bekend is vir sy hanepoot- en sultanadruiwe en – verál – die verskillende produkte van daardie druiwe.

Die kerkraad het op daardie aand vergader en toe verneem dat een van die lidmate van die gemeente, ’n sekere mej Janse van Vuuren, wat ’n rukkie vantevore oorlede is, haar plaas aan die gemeente bemaak het. Dit was onderhewig aan die voorwaarde dat die plaas nooit verkoop mag word nie en dat ’n sekere mnr Loots en sy vrou – wat mej Janse van Vuuren voor haar dood opgepas en na haar boerderybelange omgesien het – die reg sou hê om die plaas van die kerkraad te huur "op billike terme en voorwaardes", om die presiese woorde van die testament aan te haal.

Mej Janse van Vuuren het nooit getrou nie en was in haar laaste lewensjare ’n invalide wat aan ’n rystoel gekluister was. Mnr en mev Loots het hulle oor haar ontferm. Reeds op daardie stadium – en waarskynlik uit dankbaarheid vir hul liefdesdiens – het mej Janse van Vuuren haar plaas van net meer as 1 630 hektaar aan mnr Loots verhuur teen die besonder lae jaarlikse bedrag van R1 per hektaar.

By sy vergadering van 13 Augustus 1986 het die kerkraad besluit om die plaas voorlopig op dieselfde voorwaardes as voor mej Janse van Vuuren se dood aan mnr Loots te verhuur. Die kerkraad het dit in die vooruitsig gestel dat die plaas behoorlik omhein sou word en dat die hoofpad met jakkalsdraad afgespan moes word. Die plan was om daarna die plaas in die ope mark te verhuur om aan die kerk ’n vaste inkomste te verseker.

Drie jaar na mej Janse van Vuuren se dood het die kerkraad besluit om die huur van die plaas op ’n openbare veiling op te veil. Die hoogste bod, van R16,50 per hektaar, is deur ’n boer van die omgewing gemaak.

U sal onthou dat dit egter ’n voorwaarde van mej Janse van Vuuren se testament was dat die kerkraad die plaas aan mnr Loots moes verhuur "op billike terme en voorwaardes", soos sy dit gestel het. Toe die kerkraad dus nou ’n aanbod by die openbare veiling gekry het van R16,50 per hektaar het hulle gemeen dat dit billik sou wees om die plaas aan mnr Loots teen R14 per hektaar te verhuur. Onthou ook dat tot op daardie stadium die huur slegs R1 per hektaar was.

Mnr Loots het ’n téénaanbod van R10 per hektaar aan die kerkraad gemaak en in sy aanbod het hy beweer dat die prys wat op die veiling behaal is, deur veespekulante so hoog opgejaag is en dat geen bona fide-boer in die betrokke omgewing so ’n hoë prys vir die huur van weiveld sou betaal nie.

Die kerkraad het egter geen oorweging aan mnr Loots se teenaanbod van R10 per hektaar geskenk nie en het, inteendeel, voortgegaan om ’n huurkontrak te sluit met die persoon wat tydens die veiling die hoë bod van R16,50 per hektaar gemaak het. Daarna het hulle ’n aansoek tot die hooggeregshof in Kimberley gerig vir die uitsetting van mnr Loots van die plaas.

Die kerkraad se advokaat het geargumenteer dat dit nie strydig met die bepalings van die testament was nie dat ’n redelike en billike huurgeld op ’n openbare veiling vasgestel kon word, en dat mnr Loots dan die eerste reg sou hê om teen die huurgeld wat op die veiling behaal is, te huur.

Mnr Loots se advokaat het daarteenoor betoog dat indien die agtergrond van die bemaking in ag geneem word, mej Janse van Vuuren met die woorde "op billike terme en voorwaardes" bedoel het om méér as net ’n sogenaamde eerste reg van weiering aan mnr Loots te verleen.

Die hof het beslis dat mej Janse van Vuuren bedoel het dat die kerkraad aan mnr Loots die plaas moes verhuur op voorwaardes en terme wat in álle opsigte billik moet wees, en wat noodwendig ook ’n billike huurgeld sou insluit. Om ’n billike huurwaarde vas te stel was die hof van mening dat daar ’n plig op die kerkraad gerus het om huurwaardes in die omgewing as markverwante huurgelde in ag te neem. Daarbenewens moes die kerkraad, volgens die hof, steeds in gedagte hou dat mej Janse van Vuuren nooit sou bedoel het dat mnr Loots ’n huur moes betaal wat op ’n openbare veiling vasgestel word en wat heelwat méér is as wat die boere in die omgewing as huurgeld vir die plaas sou betaal het nie.

Derhalwe het die hof beslis1 dat die kerkraad, deur die huur op ’n openbare veiling op te veil, onredelik en onbillik en teenstrydig met die bedoeling van mej Janse van Vuuren opgetree het. Die hof het ook beslis dat die kerkraad nie bewys het dat die kerkraad se aanbod van R14 per hektaar ’n billike huurgeld vir die plaas was nie.

Die hof het dus die kerkraad se aansoek om ’n uitsettingsbevel van mnr Loots van die plaas af geweier, en die kerkraad opdrag gegee om met mnr Loots te onderhandel ten einde billike terme en voorwaardes vir ’n huurkontrak te beding in die lig van die hof se uitleg van mej Janse van Vuuren se testament.

Agterna gesien was mej Janse van Vuuren se testament tog ’n bietjie vaag en het dit seker nie haar ware bedoeling presies weergegee nie. Die gevolg was onnodige regskoste vir sowel mnr Loots as die NG Gemeente van Douglas.

En nou moet u maar self besluit of ú testament u ware bedoeling weergee. Indien u twyfel, gaan spreek u prokureur.


{1}  Vgl Kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Gemeente Douglas, en ’n Ander v Loots 1990(3) SA 451 (NKA)

                                                                          

 


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address